Apis melifera , Vaal Marina se sinklêvi en Andries se kierangs.
So tydjie gelede trek daar ‘n tornado deur Vaal Marina op die oewer van die Vaaldam.
Alles wat los, onvas of swak is waai weg, heelemaal weg.
Die tornado waai so skuins van voor af om en oor en ek dink dalk selfs onderdeur die huis.
Aangepak saam met my maat uit Nasaret, blaas wolf so al hy kan, maar kry net bome omgewaai.
Buite staan ‘n sink lêvi langs ‘n olyfboom, hy roer eers nie.
Ongelukkig trek die olyfboom wortels uit die grond en kantel ewe kordaat om, bo-op die sink lêvi.
Die lêvi frommel op soos ‘n jas wat van ‘n coat hanger af val en bly daar lê.
Na my vroeëre wedergeboorte, waag ek dit onlangs eers weer by die dam-huisie.
My moer raak suur oor Andries afskeep met die netjieshou van die plek.
Dit warrel in my kop oor hoe ek hom ‘n streep kan trek, sy kierrangs kan laat braai.
Soos ek rondskrop om orde te probeer skep, betoon ek eerbied aan die brawe lêvie, steeds opgefrommel opsy regtersy op die grond, onner die olyfboom.
So skuif ek olyfboom se nuwe loot eenkant toe om lêvi in die pot te kyk en gewaar ‘n bedrywigheid.
Apis melifera het ‘n heuningfabriek in die drom langs die lêvi begin, met eerbiedigheid en al blaas ek versigtig die aftog.
Bye en ekke kom lang pad saam, deur Potch, Mamitwaskop, Bosbokrand se plasie by Giyani verby tot op die vierde die vierdeverdieping Tukkie Entomolklas.
Ek wonner nie, ek weet, ’n by raak moerig as hy sweet ruik, veral ou sweet, daai bitter soort.
Die booswig in my begin ‘n plan sien, kry Andries tussen my en die bye, hoop hy ruik sterker as ek en laat moeder natuur wraak neem.
Terwyl die goed nog in my kop ronddraai en ons in die huis werskaf, onderbreek ‘n onaardse gil my gruweldenke. “Hulle’t my geslat”: skreeu Andries.
Die oordeel word my ontneem, Andries se geknoei word gewreek.
Hy raak paniekerig en hol huis-in, reguit na my toe. Hy klap, klap op sy kop en jive die pansula.
Die kop lyk soos ‘n popcorn masjien, dis net wriemelende bye waar jy kyk.
Andrie se kroeshare is langer as die bye se agterlywe, hulle kom nie by om hom te steek nie.
Dit maak hulle nog meer die moer in, maar sonder sukses. Hulle bewe van kwaadgeit en roep versterkings in.
‘n Paar plant ritse angels op Andries se twee oortjies, wat langs die kroesies langs loop, dat dit lyk soos “piercings”op Goth’s se ore.
Noodgedwonge spoel Andries se wraak oor na die wraakgierige toe.
‘n Kaalkop sonder kroese loop makliker deur.
Mammatjie spuit Doom Andries gil en die kierangs braai.
Dik van die lag krap ek met ‘n kombuismes angels op Andries se ore uit en woel die bye op sy kop uit die kroesstrik uit. Soos ek op sy wange uitkrap, pluk ek hier en daar ‘n grys baardstoppel saam, maar dis in vergelyking met die polsende angels pynloos.
Mammatjie krap my angels en smeer Covid sanitiser op ons albei, Andries en die collateral damaged kop en ek besef met genoegdoening, die wraak is my gespaar, die klits of twee is my vryspraak, want ; “hulle het my ok geslat Andries, kyk hier”.